Tydkapsule in kerk in Hongarye gevind

Die kruis bo-op Hongarye se grootste kerk het ‘n tydkapsule versteek wat 176 jaar oud is en wat vanjaar tydens opknappingswerk ontdek is. ‘n Verseëlde, silindriese koperkapsule is in 1845 in die kruis geplaas. Die koepel van 100-meter het bomaanvalle in die Tweede Wêreldoorlog oorleef, maar die houer is erg deur skrapnel beskadig. Die dokumente oor die Esztergom-katedraal se bouwerk is egter in ‘n byna perfekte toestand. ‘n Nuwe tydkapsule vir toekomstige geslagte sal dalk nagelaat word. 


Aanlyn radiostasie in Jozi help met kommunikasie

Die Stad Johannesburg het ‘n aanlyn radiostasie in Ivorypark bekend gestel. Die nuwe Joburg Pulse FM is daarop gemik om kommunikasie-hindernisse tussen gemeenskappe uit te wis deur na meer inwoners uit te reik. Inwoners kan nou regstreeks met die stad kommunikeer oor alles wat met die metro en met dienslewering verband hou. Al die stad se instellings soos Joburg Water, City Power, die Johannesburgse Padagentskap en ander was teenwoordig om die geïntegreerde diensleweringsplan te verduidelik. 


Afrika-perdesiekte in Wes-Kaap bevestig

Vyf vermeende gevalle van Afrika-perdesiekte is op ‘n plaas in die omgewing van die Cederberg Plaaslike Munisipaliteit aangemeld. Die Wes-Kaapse Provinsiale Veeartsenykundige Laboratorium het bevestig dat monsters van ‘n onlangse vrekte positief vir die virus getoets het. ‘n Voorlopige uitbreekbeheerde gebied is opgestel. Dit strek tot by die Noord-Kaapse grens. Geen perde, donkies of sebras mag sonder ‘n permit uit, in, deur of binne die gebied beweeg nie. 


LPM lei raadslede op

Die Grondlose Mense Beweging is op die oomblik besig met ‘n opleidingskursus vir sy raadslede in ‘n poging om die bestuur van plaaslike owerhede te verbeter en versterk. Die werkswinkel, wat in Mariental gehou word, het reeds Donderdag begin en loop Sondag tot ‘n einde. Die party sê die opleiding lê klem op ‘n fokus op die inwoners en op transformasie van sisteme. Ontwikkeling is ook ‘n prioriteit. 


Namibië lei in hernubare energie

Internasionale kenners sê Afrika se armoede is die prys wat vir klimaatsverandering betaal word. Chris Yelland, ‘n Energiekenner in die buurland, sê Namibië is ‘n leier op die gebied van hernubare energie en meer bekostigbare persele kan weens die lae bevolking opgerig word om krag op te wek


Bokser vas vir klagte van aanranding

Die Namibiese Olimpiese bokser Jonas Junias Jonas is aan die kus in hegtenis geneem op klagte dat hy ‘n polisie beampte aangerand het nadat hy na bewering Covid-regulasies oortree het. Die beampte is volgens berigte na Windhoek verplaas met ernstige beserings maar hy is stabiel. Die Erongo Streek Bevelvoerder Kommisaris Andreas Nelumbu sê geweld teenoor sy beamptes sal nie geduld word nie. 


Huismark vertoon beter

Die FNB Huisprys-indeks toon dat die mark ‘n stadige herstel toon en het in 2020 ‘n groei van 3,5 persent getoon teenoor -4,7 persent wat in 2019 gemeet is. Frans Uusiku, FNB se Mark Navorsingsbestuurder het die besonderhede….  


Philip se Landy trek aandag

‘n 86-jarige motor wat eens aan Prins Philip behoort het, is tans die middelpunt in ‘n museum in Sri Lanka. Die Hertog van Edinburgh het dié 1935 Standard Nine vir ongeveer 240 Namibiese doller gekoop toe hy in 1940 in Colombo saam met die Britse vloot daar gesetel was. Die prins het later ‘n motorliefhebber geword. Tydens die Hertog van Edinburgh se begrafnisoptog môre, sal ‘n pasgemaakte Land Rover Defender wat hy help ontwerp het, sy kis na die St George’s Kapel vervoer.


Robbeneiland sal moet afdank

Die Robbeneiland Museum sê hy beplan om die salarisse van sy werknemers met 50 persent te sny oor wat hy ‘n wagtende krisistydperk noem. Die museum se finansies is onder geweldige druk te midde van die voortgesette Covid-19 pandemie en die bestuur sê hy het geen ander keuse nie. Die museum se Woordvoerder, Siphuxolo Mazwi, sê dit sal 233 personeellede beïnvloed en kan minder werksure en selfs afleggings insluit. Die toerisme-sektor sukkel om te herstel na die beperkings op reis en weens die getalle wat in een gebied toegelaat word. 


Nog nie seker of Joost se broer onskuldig is of nie

Die Pretoriase polisie ondersoek steeds of die broer van die ontslape rugby-legende Joost van der Westhuizen wettig opgetree het toe hy twee vermeende rowers in ‘n kerk doodgeskiet het. Pieter van der Westhuizen se prokureur, Ulrich Roux, het aan media gesê speurders wag nog op ballistiese en lykskouings-verslae. Van der Westhuizen het in Julie verlede jaar losgebrand toe mans tydens ‘n kerkdiens ingestorm en ‘n vuurwapen op die pastoor gerig het.