493 Nuwe Covid-19 gevalle in die land bevestig

Die Namibiese gesondheidsministerie het  493  nuwe Covid-19 gevalle in die land bevestig.Windhoek het 56, Walvisbaai 55, Katima Mulilo 54,Tsumeb 41,Oshakati 35 en Eenhana  32. Die res kom landwyd  voor. Daar is steeds 20 617 aktiewe gevalle,met 92 250 wat herstel het uit ‘n kumulatiewe totaal 118 922.Die herstelkoers is 80%.


Springbokke opgewonde oor vanaand

Springbok-hulpafrigter, Mzwandile Stick, het aanlyn aan media gesê die span is opgewonde oor die tweede Castle Lager toets teen die Britse en Ierse Leeus vanaand op die Kaapstad-stadion. Die Springbokke voel steeds afgehaal ná hulle 17-22-nederlaag in die eerste toets nadat hulle teen rustyd met nege punte voorgeloop het.


Nuus van die Olimpiese Spele

Nuus van die Olimpiese Spele .Die Namibiese bokser Jonas Junias Jonas het sy liggewigtitel-geveg verloor. Al vyf beamptes het die geveg aan sy Australiese teenstander Harry Garside toegeken.In Japan is die gesondheids-noodtoestand intussen na drie distrikte naby die Olimpiese gasheerstad, Tokio, uitgebrei,  asook na die westelike distrik van Osaka. Covid-19-gevalle in die hoofstad en in die res van die land het skerp gestyg. Die Japanese eersteminister, Yoshihide Suga, het ‘n beroep op landsburgers gedoen om die Spele by die huis te kyk en die sportbyeenkomste by te woon nie.


Suid-Afrikaanse gesondheidskenner bekommerd oor Covid-19 in Augustus

‘n Suid-Afrikaanse Gesondheidskenner sê Covid-19 kan die buurland aanstaande maand swaar tref. Hoewel sommige kenners meen die derde vlaag van besmettings het sy piek bereik, voorspel Francois Venter, die direkteur van die Wits-gesondheidsgroep, Ezintsha, meer gevalle, hospitaal-toelatings en sterftes in die komende weke. Volgens Venter moet die Wes-Kaap nog sy piek bereik. Hy voeg by die sterftesyfer is in bykans al die provinsies hoër as tydens die tweede vlaag.Venter het aan die media gesê Augustus kan ‘n somber tydperk vir Suid-Afrika wees.


Die buurland se middelklas is verbasend veerkragtig

Die bekendstelling van BrandMapp se jongste verbruikers-insig-opname gee ‘n blik op middel- en hoëinkomste-groepe in Suid-Afrika se hantering van die Covid-19-beperkings op hulle inkomste. Die maatskappy het 30-duisend Suid-Afrikaners in huishoudings met ‘n maandelikse inkomste van minstens 10-duisend-rand betrek. Brandmapp se direkteur van storievertelling, Brandon de Kock, sê alles is nie negatief nie. Die buurland se middelklas is verbasend veerkragtig: 


Covid-19 gevalle in Japan neem drasties toe

Olimpiese Spele. Die Japanse premier Yoshihide Suga het sy kommer uitgespreek oor die drastiese tempo waarteen Covid-19 in die land versprei. Nuwe daaglikse infeksies het die 1 ste keer die 10 000-merk verbygesteek, waarvan meer as ‘n derde in Tokio aangemeld is. Suga het sy landgenote weer gevra om Covid-regulasies te eerbiedig en nie te probeer om van die sportbyeenkomste van die Spele by te woon nie.


DA vra Ramaphosa om minister Mkize te ontslaan

Die DA wil hê president Cyril Ramaphosa moet die minister van Gesondheid, Zweil Mkize, onmiddellik afdank. Die party sê daar is genoeg bewyse wat hom by korrupsie betrek in ‘n beëdige verklaring wat die Spesiale Ondersoekeenheid by die Spesiale Tribunaal ingedien het. Die verslag het bevind Mkhize het by herhaling druk op die direkteur-generaal van Gesondheid, Malebona Matsoso, uitgeoefen om die beweerde onwettige kontrak met Digital Vibes te onderteken. Intussen het Mkhize se seun Dedani, ontken dat hy 3,8-miljoen-rand van ‘n media-maatskappy ontvang het. Die maatskappy, Digital Vibes, word deur Mkhize se vennoot, Tahera Mather, besit. Die minister, wat op spesial verlof geplaas is, en sy seun is na die Nasionale Vervolgingsgesag verwys wat oorweeg om hulle van korrupsie aan te kla oor beweerde verdagte betalings aan hulle van Digital Vibes. Die Departement van Gesondheid het ‘n kontrak van 150-miljoen-rand aan Digital Vibes toegeken.


Die Proteas gaan September ‘n toer na Sri Lanka onderneem

Krieket: Die Proteas gaan van 2 tot 14 September ‘n toer na Sri Lanka onderneem. Krieket SA het bevestig die toer bestaan uit drie een-dag-internasionale wedstryde en drie Twintig20-kragmetings, wat almal in Colombo gespeel word. Die waarnemende uitvoerende hoof van KSA, Pholetsie Moseki, sê wedstryde teen spanne van gehalte op die sub-kontinent is die beste manier vir die Proteas om vir die Internasionale Krieketraad se T20-Wêreldbeker voor te berei. Dit word van 17 Oktober in Oman en die Verenigde Arabiese Emirate beslis.


Trump se belastingopgawes weer in die nuus

Die Amerikaanse departement van Justisie het beveel dat die land se Inkomstediens die voormalige president Donald Trump se inkomstebelastingopgawes aan die Kongres moet verstrek. Die Inkomstediens het voorheen beslis die finansies-komitee van die Huis van Verteenwoordigers waar die Demokrate ‘n meerderheid het, het ‘n wettige versoek ingedien om toegang tot Trump se belastingopgawes te kry. Die doel daarvan is om die manier waarop die Inkomstediens presidente se belastingopgawes oudit, te evalueer. Dié uitspraak van die departement van Justisie is ‘n omkering van ‘n vorige beslissing deur dieselfde departement, tydens Trump se ampstydperk, wat die Inkomstediens gesteun het in sy weiering om die komitee toegang tot die opgawes te gee.