21 Nuwe Covid-19 gevalle in die land bevestig

Die Namibiese gesondheidsministerie het 21 nuwe Covid-19 gevalle in die land bevestig. Engela 5, Tsandi 4, Okongo 3 en Swakopmund, Rehoboth en Luderitz 2 elk. Die res kom landwyd voor. Daar is steeds 776 aktiewe gevalle uit ‘n kumulatiewe totaal van 128 927. Die totale sterftesyfer is tans 3 554


Polisie in Suid-Afrika is gereed vir verkiesingsdag môre

Die Suid-Afrikaanse minister van Polisie, Bheki Cele, is vol vertroue die polisie kan wet en orde handhaaf terwyl soldate help om sleutelinfrastruktuur oral in die buurland op verkiesingsdag môre te beveilig. Die polisiediens en ander wetstoepassingsagentskappe is gereed om te verseker niemand word verhinder of geïntimideer by stemlokale nie. Cele verwelkom die ontplooiing van meer polisiebeamptes in gebiede in KwaZulu-Natal, die Oos- en Wes-Kaap, Gauteng en Mpumalanga wat ‘n bron van kommer is.


Namibiese bus en taxi-tariewe bly vir eers dieselfde

Die Namibiese Bus en Taxi vereniging, NABTA, het bekendgemaak dat bus en taxi-tariewe dieselfde sal bly op 1 November en nie verhoog word soos aanvanklik beplan is nie. NABTA wys in ‘n verklaring daarop dat die besluit geneem is om onnodige vrywing met die owerheid te vermy en ‘n beroep op passasiers gedoen om bus en taxi dienste te respekteer, terwyl hulle voortgaan met onderhandelings vir ‘n tariefverhoging.


Marvin Orie is Sapra se nuwe president

Rugby: Die Springbok-slot Marvin Orie is die nuwe president van die Suid-Afrikaanse Rugbyspelersvereniging, Sapra. Die 28-jarige Orie het by die voormalige slot van die Westelike Provinsie, Chris van Zyl, oorgeneem wat uit beroepsrugby getree het. Oupa Mohoje is nou weer terug in die vise-presidentspos na hy in Van Zyl se afwesigheid as president waargeneem het.


Theo Erasmus sterf

Huldeblyke stroom in nadat die bekroonde Suid-Afrikaanse trekklavierspeler en komponis Theo Erasmus aan longkanker oorlede is. Die 79-jarige Erasmus sou op 4 November ‘n ATKV-toekenning ontvang vir sy bydrae oor 65-jaar tot die Afrikaanse musiekbedryf. Hy was in sy leeftyd ondermeer die hoof van die musiekdepartement by die destydse Afrikaanse Radiodiens en stigterslid van die Suid-Afrikaanse Akkordeon-assosiasie. Daar is nog geen begrafnisreëlings bekend gemaak nie.


Molnupiravir word steeds getoets as anti-virale medikasie

Molnupiravir, ’n mondelingse anti-virale medikasie, het die risiko vir hospitalisasie in pasiënte met matige Covid-19 tot 50% in tussentydse fase III kliniese proewe verminder. Dit word tans evalueer vir insluiting in die Wêreldgesondheidsorganisasie se riglyne vir die behandeling van Covid-19 afhangend van die goedkeuring vir gebruik deur regulerende owerhede. Indien dit goedgekeur word, sal dit die eerste mondelingse medikasie wees vir Covid-19-pasiënte met matige simptome en wat nie in die hospitaal opgeneem is nie.


Groen-tegnologie vir die toekoms

Die Stad Kaapstad sê groen-tegnologie-maatskappye in die buurland se Moederstad het weer eens getoon hulle is baanbrekers op die gebied. Dit volg na sommige van hulle gekies is as voorkeur-tenderaars in die vyfde ronde van die Onafhanklike Kragverskaffers-aankopeprogram vir Hernieubare Energie. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Geleenthede en Batebestuur, James Vos, sê met ‘n totaal van 25 projekte wat gekies is, het hernubare energie teen ‘n gemiddelde prys van bykans 47-sent per kilowatt-uur ‘n blink toekoms.


Protesoptrede in dele van Suid-Afrika voor môre se verkiesings

Die Suid-Afrikaanse minister van Polisie, Bheki Cele, is vandag in KwaZulu-Natal te midde van berigte van protesoptrede deur gegriefde gemeenskapslede. Die departement se woordvoerder, Lirandzu Themba, sê Cele gaan op die vooraand van die verkiesing die gereedheid beoordeel van wetstoepassingsagentskappe in sommige van die geïdentifiseerde gebiede wat kommer wek. Suid-Afrikaners gaan môre na die stembus vir die buurland se plaaslike owerheids verkiesings.


Meer oor Ruach Elohim-stigting

En..Die Ruach Elohim-stigting fokus op die bewusmaking van babastortings en versorging van ongewenste, weggegooi-, mishandelde en verwaarloosde babas in Namibië. Ruach Elohim beteken “Asem van God”. Hulle doen ‘n beroep op moeders van ongewenste babas om nie hulle babas weg te gooi nie en hulle eerder in hulle baba-boks op die hoek van Dr. Schwietering- en Bottle Tree-straat in Ocean View, Swakopmund, te plaas. Die stigters, Ronel en Dick Peters, bied ook aan om die baba te gaan haal as die moeder nie op Swakopmund woon nie. Ronel bedank almal vir hulle ondersteuning.  


Cop26 bly in die nuus

Die Universiteit van die Vrystaat doen ‘n beroep op alle hoër onderwys-instellings, sakeondernemings, die privaat- en openbare sektor, en die Suid-Afrikaanse gemeenskap om tot klimaatsveranderings-ingrypings by te dra. Die universiteit steun die Verenigde Nasies se doelwitte vir volhoubare ontwikkeling en veral Doelwit 13, wat ‘n dringende beroep op optrede teen klimaatsverandering doen. Die rektor en vise-kanselier, Francis Petersen, vra wêreldleiers om waagmoedige besluite te neem oor stappe vir die vermindering van kweekhuisgasse by die konferensie oor klimaatsverandering, Cop26, wat vandag in Glasgow in Skotland begin.