SA regering moet help met hulppakket vir toerisme

Die Kaapstadse Internasionale Lughawe het in 2020 ondanks uitdagende omstandighede 9,5 miljard rand se vrag uitgevoer. ‘n DA-lid van die wetgewer, Deidré Baartman, sê dis te danke aan die pogings van die Kaapstadse Lugvervoer-program, ondersteun deur die Wes-Kaapse regering. Sy sê met die reisverbod wat nou weer geld, is die provinsie se grootste markte nou weer onbereikbaar. Baartman meen verligting moet gevind word, anders gaan baie van die harde werk ongedaan gemaak word.


Siekte-kenner kritiseer oorsese lande oor reisverbod

Die aansteeklike-siekte-kenner, professor Salim Abdool Karim, sê die Suid-Afrikaanse regering se belegging in sy genomiese nasporingsvermoëns het vrugte afgewerp met die vroegtydige opsporing van die Omikron-variant. Karim het die week ook oorsese lande gekritiseer vir die reisbeperkinge wat hulle ingestel het na die nuus oor die variant se opsporing. Ons korrespondent in Kaapstad, Fritz Platt …


Stad Kaapstad skakel vanaand Kersliggies aan

Die Stad Kaapstad het vir die tweede jaar besluit om die gratis opelug konsert by die jaarlikse aanskakel van die feesliggies, te kanselleer. In die verlede het die geleentheid sowat 100-duisend toeskouers gelok. Die stad sê met die huidige Covid-19 inperkings, is dit onmoontlik om die konsert te hou. Die burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sal wel nou net na sewe-uur vanaand by ‘n klein seremonie die ligte by die hoofkruising in Adderleystraat aanskakel. Die lei die feesseisoen amptelik in, en skop die aanskakel-tema van Kaapstad as Stad van Geleenthede af. 


Windhoekers kan asem skep met munisipale rekeninge

Die munisipale raad van Windhoek het vandag die vermindering van afbetaling goedgekeur wat wan-betalende kliënte moet betaal om hul dienste weer aan te sluit. Voorheen was wan-betalende kliënte verplig om ‘n derde van hul uitstaande skuld te betaal. Die raad het nou hierdie bedrag met 15 persent verminder met ‘n verlengde tydperk van tot 60 maande. Dit sal vir ‘n tydperk van ses maande van krag wees en het ten doel om verligting te bied aan inwoners wat probleme ondervind weens die Covid-pandemie. 


Vyf vermeende ontvoerders in SA vasgetrek

Die nasionale polisie-kommissaris in Suid-Afrika, Khehla Sitole, het die polisie geloof ná die inhegtenisneming van vyf vermeende ontvoerders vandag. Tahseen Mateen Kardame is vroeër die maand buite sy pa se hardeware-sakeonderneming in Benoni ontvoer. ‘n Multi-dissiplinêre geïntegreerde taakspan is geaktiveer, wat gelei het tot Kardame se redding. ‘n Woordvoerder van die polisie, Vish Naidoo, sê die verdagtes sal Donderdag in die Benoni landdroshof verskyn op aanklagte van ontvoering, afpersing en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.


DA bevraagteken weermag se opening van ketting bakkerye

Die DA is van plan om die verdedigingsminister, Thandi Modise, te vra vir ‘n ondersoek na wat hy bestempel as die nasionale weermag se bisarre besluit om ‘n ketting bakkerye te open. ‘n DA-parlementslid, Kobus Marais, sê hoewel die party erken die weermag het kontantvloei-probleme wat tot bedryfsuitdagings lei, is die opening van bakkerye nie die oplossing nie.


Omstrede wetsontwerp oor beleggings uit NV onttrek

Die omstrede Wetsontwerp vir die Bevordering en Fasilitering van Beleggings 2021 wat verlede week in die Nasionale Vergadering deur die Namibiese handelsminister, Lucia Iipumbu ter tafel gelê is, is vanmiddag onttrek tot verdere kennisgewing. Die wetsontwerp het oproer in die privaat sektor veroorsaak. Eben de Klerk van die Ekonomiese Beleidsnavorsings Vereniging het sy reaksie so aan Kosmos 94.1 Nuus opgesom.


Planne om kameelperde in Mosambiek te hervestig

Die Kameelperd-stigting sê hulle beraam planne vir hulle mees ambisieuse kameelperd-hervestiging. ‘n Woordvoerder het bevestig dat hulle oor die volgende vyf jaar in samewerking met die Mosambiekse regering en ander rolspelers meer as 350 kameelperde gaan hervestig in gebiede waar min van dié diere voorkom. Dit sluit die Zinave en Banhine nasionale parke, Maputo spesiale reservaat en Karingani-wildreservaat in. Die reeks oorplasings sal die bevolkings meer as verdubbel. Dit sal ook die suidelike kameelperde weer in hulle geskiedkundige gebied hervestig met meer as drie miljoen akker waar die spesie kan gedy. 


Grenssluitings van SA vlugte het impak op uitvoer van vrugte

Die uitwerking van grenssluitings van Suid-Afrikaanse vlugte weens die nuwe variant van Covid-19 het reeds ‘n invloed op die uitvoer van vrugte uit Suid-Afrika. Freshplaza.com berig met vlugte van Air France wat gekanselleer is, is die uitvoer van lietsjies na Frankryk erg geraak. Frankryk is die grootste invoerder van Suid-Afrikaanse lietsjies in Europa. Hierdie vlugte neem ook bloubessies en kersies na Frankryk. Lugrederye het vir markagente gesê hulle is onseker oor beplande vlugte later die week


Help die brandbestryders

Namibian Marshall Ranger Sean Naude doen ‘n beroep op die publiek vir hulp aan die brandbestryders. Hy sê meer as 60 000 hektaar en 12 plase het afgebrand weens die veldbrand wat by die Osona-weermagbasis begin het. Naude sê daar is tans brandbestryders wat help om die veldbrand by Omitara te beveg wat kos, drinkgoed, brandstof en gereedskap nodig het.