Rusland vertraag ondersoeke na oortredings van VN-sanksies

Rusland vertraag die aanstelling van panele van onafhanklike deskundiges om die oortredings van die VN-sanksies teen Suid-Soedan, die Demokratiese Republiek van die Kongo, die Sentraal-Afrikaanse Republiek en Mali te monitor, het diplomate gesê. Hulle sê hulle word in die steek gelaat om hul werk te doen. Internasionale politieke kenner, André Duvenhage, verduidelik Rusland het voornemens oor Afrika.


Wes-Kaap is amptelik uit die kloue van die derde vlaag

Ná weke van asem ophou is die Wes-Kaap-provinsie nou amptelik uit die kloue van die derde vlaag van die pandemie. Die Wes-Kaapse gesondheidshoof, dr. Keith Cloete, sê die provinsie se algehele Covid-verwante hospitaal-opnames, infeksie- en sterftesyfer het nou beduidend afgeneem. Ons Kaapse korrespondent, Fritz Platt …


Dubai Ekspo se amptelike opening vind tans plaas

Die 2020 Dubai Ekspo se amptelike openingseremonie vind tans plaas. Namibië neem aan dié wêreld-ekspo in die Verenigde Arabiese Emirate deel wat vanaf môre tot Maart 2022 gaan plaasvind. Die Namibiese sake- en toerismesektor stal hul maatskappye, projekte en produkte, ook deur middel van digitale bemarkingsmateriaal, by die Namibiese pawiljoen by die Dubai Ekspo uit.  


Hawaiise vulkaan-waarskuwingsvlak verhoog

Die media in Hawaii berig daar is geen onmiddellike gevaar vir bewoners nie al sê die Amerikaanse Geologiese Diens die Kilauea-vulkaan se uitbarstings is aan die toeneem. Die diens het in ‘n twiet gesê die afkoelende lawa-meer het nou ‘n nuwe skeurings-uitbarsting geword. Die waarskuwingsvlak is verander van “versigtig” na “waarskuwing”, en die lugvaart-kleurkode van oranje na rooi terwyl die nuwe uitbarsting en gepaardgaande gevaar evalueer word. Die jongste vlak en kleurkode kan daarop dui dat ‘n gevaarlike uitbarsting vermoed word. 


Twaalf gevaarlike gevangenes ontsnap uit Mount Frere-polisieselle

Twaalf Oos-Kaapse gevangenes het op die vlug geslaan nadat hulle in die vroeë oggendure uit die Mount Frere-polisieselle ontsnap het. ‘n Polisiewoordvoerder, Priscilla Naidu, sê ‘n 72-uur-aktiveringsplan is van stapel gestuur. Naidu sê die gevaarlike gevangenes het vermoedelik deur ‘n gat in die muur ontsnap, en ‘n interne ondersoek is aan die gang.


Kaper met speelgoedvuurwapen se dood ondersoek

Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat ondersoek die dood van ‘n vermeende kaper wat in Gugulethu in Kaapstad dood is. Opod se woordvoerder, Grace Langa, sê die man was na bewering vroeër die week betrokke by ‘n voertuigkaping in Delft. Twee verdagtes het vir die polisie weggejaag en teen ‘n muur gebots, waarna hulle te voet gevlug het. Langa sê een verdagte is doodgeskiet nadat hy ‘n wapen op die polisie gerig het en die ander verdagte is in hegtenis geneem.


Wes-Kaap verwag slegs drie persent ekonomiese groeikoers

Die Wes-Kaapse LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede, David Maynier, sê die provinsie kan vanjaar ‘n ekonomiese groeikoers van net onder drie persent verwag. Sy verslag oor die provinsiale ekonomiese oorsig en vooruitsig, dui aan die Wes-Kaapse toerisme- en gasvryheidsbedrywe het gely weens Covid-19-beperkings. Maynier sê dit is tyd om hierdie bedrywe oop te stel om ekonomiese groei in die provinsie weer te laat opvlam.


Elektrisiteitsbeheerraad keur 3,4% verhoging van Stad Windhoek goed

Die Elektrisiteitsbeheerraad het die tarief-aansoek deur die munisipale raad van Stad Windhoek goedgekeur om ‘n gemiddelde verhoging van die elektrisiteitstariewe van 3,4 persent vir die boekjaar 2021-2022 te implementeer. Dit volg op ‘n verhoging van 2,92 massa-elektrisiteitstariewe deur grootmaat-kragverskaffer, NamPower, in Julie 2021. 


Namibiese landbouminister praat in NV oor plan vir suiwelbedryf

Namibië se suiwelbedryf veg vir oorlewing midde produksievolumes wat afneem en hoë produksiekoste wat produseerders laat handdoek ingooi. Dit bedreig ook sowat 1 500 werksgeleenthede in die sektor. In ‘n verklaring van die Namibiese Landbou-unie het kommoditeite-analis, Petrina Sakaria, gesê die grootste slag vir die suiwelbedryf is die verliese wat die afgelope vyf jaar gely is. Landbouminister Calle Schlettwein, het vandag vrae in die Nasionale Vergadering beantwoord oor wat die regering se korttermynplan vir die bedryf is.