Verstappen trek eerste weg in Miami vandag

Max Verstappen van Red Bull is in die voorste wegspringposisie in vandag se Miami Grand Prix, nadat hy Saterdag die snelren gewen het. Daar word berig die wêreldkampioen en kampioenskap-voorloper, wat dié seisoen vier van die vyf Grand Prix-wedrenne ingepalm het, het nou sy sewende agtereenvolgende voorste wegspringposisie behaal. Charles Leclerc van Ferrari spring tweede weg, met sy spanmaat Carlos Sainz derde, en Verstappen se Red Bull-spanmaat Sergio Perez vierde. Die drie-malige wêreldkampioen Verstappen het die vorige twee Grands Prix in Miami gewen, maar nog nooit vanuit die voorste wegspringposisie nie.