SA ondersoek nog of kinders jonger as 18 ingeënt moet word

Die Suid-Afrikaanse gesondheidsdepartement sê dit ondersoek nog eers of kinders jonger as 18 in die toekoms teen Covid-19 ingeënt moet word. Die ninister van gesondheid, Joe Phaahla, sê daar sal eers gekyk word na die jongste navorsing, en of daar kapasiteit is om kinders met onderliggende siektes teen die virus in te ent. Ons korrespondent, Fritz Platt, gesels uit Kaapstad.


SA Raad op Geografiese Name kan nuwe lede kry

Die Suid-Afrikaanse Raad op Geografiese Name kan binnekort nuwe lede hê. Die raad het ‘n groot rol gespeel in onlangse naamsveranderings, soos Port Elizabeth wat Gqeberha geword het, en Brandfort in die Vrystaat wat na Winnie Mandela vernoem is. Die departement sport, kuns en kultuur ontvang die name van voorgestelde lede en minister Nathi Mthethwa sal die finale besluit neem. Die raad kan tot 25 lede hê. Benoemings sluit op 30 September. 


Eskom ly netto verlies van 18,9 miljoen rand

Eskom se uitvoerende hoof, André de Ruyter, het aangekondig die kragreus het ná belasting ‘n netto verlies van 18,9 miljard rand getoon vir die boekjaar wat op 31 Maart vanjaar geëindig het. Verkoopsvolumes het met 6,7 persent gedaal. Eskom het in hierdie tydperk hul personeel met 4,5 persent verminder. Die bruto skuldlas het met 81,9 miljard rand verminder. Belastingbetalers het 56 miljard rand aan skuldbetaling bygedra. De Ruyter sê die skuldlas is Eskom se grootste uitdaging. 


Nasionale kongres van Nasionale Federasie vir Mense met Gestremdhede skop af

Die Nasionale Federasie vir Mense met Gestremdhede in Namibië het se nasionale kongres het vandag in die hoofstad afgeskop en duur tot môre. Tydens die kongres wat elke vier jaar plaasvind, word ‘n nuwe nasionale uitvoerende komitee gekies om die organisasie te bestuur, nuwe korporatiewe planne, regslui, ouditeure en beskermhere goed te keur. Die nasionale voorsitter, Daniel Trum, vertel aan Kosmos 94.1 Nuus hoe dag een van die kongres afgeloop het.


Gratis toegang by Wes-Kaapse museums as jy ingeënt is

Mense in die Wes-Kaap wat gedeeltelik of ten volle ingeënt is, sal in September gratis by sekere museums mag ingaan. Dit sluit die Beaufort-Wes, Montagu, Wellington en Worcester museums in, asook heelwat ander regoor die provinsie. Die LUR vir kulturele sake, Anroux Marais, sê die veldtog is deel van die Wes-Kaap se Erfenismaand-vieringe.


Dringende hofaansoek van opposisiepartye van die rol geskrap

Die Popular Democratic Movement het saam met ander opposisiepartye die heraanstelling van Paulus Noa as direkteur-generaal van die Teenkorrupsie-kommissie vandag in die hof teengestaan. Die politieke partye het die speaker, professor Peter Katjavivi, gedagvaar oor die prosesse wat aangewend is om Noa en sy adjunk, Erna van der Merwe, weer by die Teenkorrupsie-kommissie vir die volgende vyf jaar aan te stel. PDM se sekretaris-generaal, Manuel Ngaringombe, het aan Kosmos 94.1 Nuus gesê Regter Collins Parker het die opposisiepartye se dringende hofaansoek van die rol geskrap.


Twee dood toe hoofweg in Mississippi ineenstort na Orkaan Ida

Minstens twee mense is dood en talle beseer toe ‘n hoofweg in Mississippi, Amerika, ingestort het in die nasleep van Orkaan Ida. Owerhede in dié suidelike staat vermoed die tragedie is veroorsaak nadat motoriste nie die skade aan die pad kon sien wat deur swaar reën veroorsaak is nie. Sewe voertuie het in die gat op Hoofweg 26 beland. Volgens berigte is die gat tussen 15 en 18 meter lank en ses tot nege meter diep. Amerika se Nasionale Weerdiens sê sowat 20 sentimeter reën is tydens die storm in die gebied gemeet. 


Kommer oor positiewe Covid-gevalle onder leerders

Die aantal bevestigde positiewe Covid-gevalle onder Namibiese leerders is kommerwekkend. Die gesondheidsministerie het vandag aangekondig dat 57 leerders positief getoets het, ná gister se 98. Gister het tien onderwysers positief getoets en vandag sewe. Die uitvoerende direkteur in die ministerie, Ben Nangombe, het aan Kosmos 94.1 Nuus gesê dit is duidelik dat regulasies by skole hersien moet word om verdere Covid-oordrag te vermy.


Nuwe data van satellietsenders op kameelperdsterte verkry

Nuwe data is reeds verkry van die vier nuwe satellietsenders wat onlangs op die sterte van kameelperde in die Etosha Nasionale Park en die Ehirovipuka-bewaringsgebied geplaas is. Dit is deur die kameelperdnavorser Jackson Hamutenya van die Namibiese Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie se Biodiversiteit Navorsingsentrum gedoen in samewerking met die omgewingsministerie, die Giraffe Conservation Foundation (GCF); en die Universiteit van Namibië se veeartsenyskool. Hamutenya vertel aan Kosmos 94.1 Nuus watter nuwe data hulle op die beweging van kameelperde van die satellietsenders ontvang het.

Hamunutenya het gesê hulle is baie tevrede met die tegnologie en wil nog meer kameelperde in Namibië en Afrika daarmee toerus.


Delhra: Woestynleeus se nood is hoog

Dit gaan nie goed met Namibië se sogenaamde woestynleeus nie, volgens Izak Smit van Desert Lions Human Relations Aid, oftewel Delhra. Die Smits het vir drie weke in die Kunenestreek na die leeus gaan soek. Smit sê die leeus is tans in die berge en valleie wat moeilik begaanbaar is. Hy sê van die diere begin terugkeer na droë rivierstelsels en baie van die leeus se prooi trek in die reëntyd na die grasvlaktes toe wat mens-leeu-konflik verhoog. Smit het aan Kosmos 94.1 Nuus gesê die leeus se nood is baie hoog en hul getalle verminder drasties.