WGO gaan noodvergadering oor aappokke hou

Die Wêreldgesondheids-organisasie gaan ‘n noodvergadering hou nadat meer as 100 bevestigde gevalle van aappokke in Europa aangeteken is, terwyl gevalle ook in Amerika, Kanada en Australië bevestig is. Die eerste geval is op 7 Mei in Brittanje aangemeld. Wetenskaplikes soek ‘n verband tussen die infeksies in die Noordelike Halfrond. Die virus is oorspronklik in ape gevind, vandaar die naam. Dit is die eerste keer in die 1970’s in die Demokratiese Republiek die Kongo aangemeld en die infeksies het sedertdien ook in Wes-Afrika toegeneem. Dit versprei met nabye kontak.