Vyf jaar se wildmisdaad-statistiek bekend

Altesaam 131 wildmisdaadsake is tussen 2017 en 14 Junie 2022 in Namibië geregistreer, het die adjunk-kommissaris van die Namibiese polisie se afdeling vir beskermde hulpbronne, adjunk-kommissaris Barry de Klerk, by die nasionale wildbeskermingsforum in die hoofstad gesê. Hy sê 93 sake is by verskeie howe in die land aan die gang, terwyl 16 met skuldigbevinding afgehandel is en nege voorlopig teruggetrek is. Hy sê agt sake is van die hofrol geskrap, terwyl twee sonder skuldigbevinding afgehandel is, en een onbepaald verklaar is. Die verdagtes wat in hegtenis geneem is, sluit in 487 Namibiërs, 21 Angolese, en vyf elk Zambiërs en Asiërs. Altesaam 243 verdagtes is uit op borg, terwyl 132 verhoorafwagtend is en 32 verdagtes se sake teruggetrek is. Verder is 30 ontslaan en 29 is vrygelaat. Altesaam 30 verdagtes is skuldig bevind, nege is dood, terwyl agt gevlug het en vyf vrygespreek is.