Verdedigingsministerie: Geen burgerlike mag militêre instelling betree

Die Namibiese verdedigingsministerie het sy reaksie gegee oor die twee Suid-Afrikaanse burgers wat in hegtenis is geneem nadat hulle na bewering foto’s van militêre toerusting in die Grootfontein-weermagbasis geneem het. Die verdagtes is ‘n egpaar van Suid-Afrika wat glo toeriste is. Die twee, die 60-jarige Walter John Dalton en sy vrou, die 58-jarige Cornelia Maria Dalton, het in die Grootfontein-landdroshof verskyn en is op borgtog van 5 000 Namibiese dollar elk vrygelaat. Dit is nog onbekend hoe dié egpaar daarin geslaag het om die goed beskermde militêre basis met hul voertuig binne te gaan en ook wie hulle toestemming gegee het om foto’s binne die grootste militêre basis in die land te neem. Die egpaar sal na verwagting môre weer in die hof verskyn, moontlik vir verhoor en vonnisoplegging. Die verdededigingsministerie se woordvoerder, kolonel Petrus Shilumbu, sê aan Kosmos 94.1 Nuus dit is onwettig vir enige burgerlike om ‘n militêre instelling sonder toestemming binne te gaan.

Die kolonel sê die twee Suid-Afrikaners het ‘n ernstige misdaad gepleeg.