Saak teen 53 ANC-veterane teruggetrek

Die staat in Suid-Afrika het die strafregtelike saak teen 53 militêre veterane teruggetrek. Hulle is in hegtenis geneem nadat hulle na bewering in Oktober verlede jaar kabinetsministers by die St George’s Hotel in Centurion gyselaar gehou het. Die destydse minister van Verdediging, Thandi Modise, haar adjunk Thabang Makwetla en die minister in die Presidensie, Mondli Gungubele, is na bewering verhoed om die hotel ná ‘n vergadering te verlaat. Die veterane het miljoene aan vergoeding geëis vir hulle rol in die stryd teen apartheid. ‘n Woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Lumka Mahanjana, sê die saak is onttrek na suksesvolle verteenwoordiging deur die beskuldigdes.