Oud-KZN streekhof president in hof oor korrupsie

Die geskorste president van die KwaZulu-Natalse streekhof, Eric Nzimande, is aangekla op vyf klagte van die oortreding van die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupte Bedrywighede. Hy het in die landdroshof in Durban verskyn op aanklagte wat spruit uit bewerings oor omkoopgeld ter waarde van 230 000 Suid-Afrikaanse rand wat hy ontvang het vir die aanstelling van waarnemende streekhof-landdroste. Die woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag in die provinsie, Natasha Ramkisson-Kara, sê Nzimande was verantwoordelik vir die aanbeveling van hierdie aanstellings by die minister van justisie.