Oorskot van seun, 13, steeds soek

Die polisie in die Kavango Wes-streek is steeds op soek na die oorskot van ‘n 13-jarige seun wat vroeër die naweek by die Mupapama-nedersetting deur ‘n krokodil aangeval is. Daar word beweer dat die seun saam met sy broer en suster rivier toe gegaan het om te gaan bad. Die drie was na bewering in ‘n systroom en nie in die Okavango-rivier self nie. Hy het blykbaar op ‘n rots gesit en die krokodil het hom vanuit die gras aangeval. Owerhede van die omgewingsministerie staan die polisie by maar het nog geen sukses behaal nie. Die ondersoek duur voort. Konflik met krokodille neem plaaslik toe met talle voorvalle wat die afgelope tyd aangemeld is. Die woordvoerder van die omgewingsministerie Romeo Muyunda het ook onlangs bevestig dat heinings teen krokodille opgerig word in gebiede waar konflik ervaar word.