Olieprys sal styg as Sjanghai Woensdag inperkings verslap

Daar word verwag dat die olieprys volgende week weer sal styg as owerhede in Sjanghai in China hul teiken behaal om inperkings in die stad te begin verslap. Internasionale nuusagentskappe berig dat owerhede meen hulle sal Covid-verspreiding buite kwarantyngebiede teen vandeesweek Woensdag onder beheer hê. Die stad van 26 miljoen mense gebruik 4 persent van China se totale olieverbruik. Die stad is reeds vir drie weke streng ingeperk na hy die episentrum geword het van China se grootste uitbreking sedert Covid vir die eerste keer in Wuhan aan die einde van 2019 geïdentifiseer is. Meer as 320 000 nuwe Covid-infeksies is sedert vroeg in Maart in die stad aangemeld.