NLU betreur die saak oor die boerin, Magriete Wilhelm

Die Namibiese Landbou-unie sê hy betreur die aanslag op ’n bejaarde alleenvrou op ’n plaas. In sy weeklikse nuusbrief se die NLU dat geen persoon behoort onveilig te voel in Namibië nie. Die boerin, die 65-jarige Magriete Wilhelm, se borgtogaansoek het gister nie geslaag in die Otavi-landdroshof nie en sy bly in aanhouding die Otavi-polisie se aanhoudingselle. Sy is verlede week Woensdag in hegtenis geneem nadat sy op haar plaas, Fokshof, ongeveer 100 kilometer buite Grootfontein, die 31-jarige Sakaria Kaandje doodgeskiet het na hy haar met ‘n stok aangeval het. Die NLU sê hy neem met kommer kennis van die voorval en is bewus daarvan dat, as gevolg van werkloosheid en toenemende armoede, insidente soos dié meer mag voorkom. Daar is volgens die unie, egter geen regverdiging vir aanvalle op bejaarde, weerlose of enige ander mens nie.