N$20m se kokaïen spoel op strand uit

Kokaïen ter waarde van 20 miljoen Suid-Afrikaanse rand het op ‘n strand in Jeffreysbaai in die Oos-Kaap uitgespoel. Die woordvoerder van die Valke, luitenant-kolonel Philani Nkwalase, sê mense wat met hul hond gaan stap het, het op die dwelms afgekom waar dit langs die see uitgespoel het. Die polisie is ontbied en het verskeie saamgeperste stene van suiwer kokaïen gevind wat 46 kilogram weeg. Die bakstene is in ‘n dik swart plastieksak gevind wat behoorlik verseël is. ‘n Leë plastiekhouer is aan die sak vasgemaak om dit te laat dryf. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.