Mariental ‘was sy hande’ oor toestand van begraafplase

Nadat inwoners van Mariental gekla het oor die toestand van die begraafplaas in die Empelheim-woonbuurt, het die munisipaliteit gesê daar is net soveel wat hy kan doen. Berigte lui dat inwoners meen die dorpsraad moet die terrein skoonmaak, veral na die goeie reën en sê daar is ‘n opsigter wat deur die raad aangestel is en betaal word om die werk te doen. Inwoners sê die grasperke word nie in stand gehou nie en bome moet ook gesnoei word. Volgens Domingo Matesu, die owerheid se beampte vir gemeenskapsontwikkeling, is die munisipaliteit is deeglik bewus van die toestand van al drie begraafplase op die dorp maar kan nie bykomende hulp aanstel nie. Daar is in die verlede van gevangenes gebruik gemaak maar, Matesu sê dit was ‘n tydelike reëling. Hy sê die gemeenskap moet ook na vore tree omdat  die munisipaliteit op die ou end net soveel kan doen.