Jongste woestyn-olifantkalfie vermoedelik weens natuurlike oorsake dood

Die jongste woestyn-aangepaste olifantkalf, /Namtani, is vermoedelik aan natuurlike oorsake dood, volgens Elephant Human Relations Aid, Ehra. Ehra se spanne het die afgelope maand gesien hoe die kalf deur fases van oënskynlike swakheid gaan. Hy het baie gereeld gelê, agterweë gebly, en soms het dit gelyk of hy mank loop. Op ander dae het hy met die ander kalf Fiori gespeel en soos ‘n gesonde, gelukkige kalf rondgehardloop. Ehra het ‘n paar weke gelede N/a’an ku sê se wildveearts gevra om na hom te kyk, maar omdat niks buitengewoon gelyk het nie, is Ehra aangeraai om nie in te gryp nie en hom aan te hou monitor. /Namtani is nie meer by sy trop gesien nie en die gevolgtrekking is dat hy uiteindelik aan ‘n onbekende, maar natuurlike oorsaak gesterf het. Kalf-oorlewing is steeds uiters laag in die woestyn-omgewing.