Iranse hof lê eerste doodsvonnis vir betoger op

Die Iranse regbank het die eerste doodsvonnis opgelê aan iemand wat deelneem aan die voortslepende betogings in die land. Die Revolusionêre Hof in die hoofstad, Teheran, het die onbekende persoon daaraan skuldig bevind dat hy ‘n regeringsgebou aan die brand gesteek het, oorlog teen God voer, korrupsie bedryf en saamgespan het om misdaad teen die nasionale veiligheid te pleeg. ‘n Ander hof het vyf ander betogers tronkstraf opgelê. Die Iranse Menseregte-organisasie, wat in Noorweë gebaseer is, waarsku minstens 20 mense staan tans tereg op aanklagte waarvoor die doodsvonnis opgelê kan word.