Geskil oor Unesco-vergadering in Rusland

‘n Geskil het ontstaan by die Verenigde Nasies se kultuuragentskap, Unesco, oor Rusland se aanbieding van sy Wêreld-erfeniskomitee-vergadering, oor net twee maande. Westerse nasies sê hulle sal die byeenkoms boikot oor die inval in Oekraïne. Rusland sal die jaarlikse vergadering van 19 tot 30 Junie aanbied. Die vergadering besluit elke jaar watter persele en gedenktekens met die organisasie se gesogte Wêreld-erfenisterrein-status beklee word. Die vergadering is een van die min internasionale geleenthede wat Rusland steeds geskeduleer is om aan te bied.