China se groot stede begin sink

Byna die helfte van China se groot stede gaan gebuk onder “matige tot ernstige” vlakke van insakking, wat miljoene mense aan oorstromings blootstel, veral namate seevlakke styg. Die skrywers van die referaat, gepubliseer deur die vaktydskrif Science, het bevind 45 persent van China se stedelike grond sink vinniger as 3 millimeter per jaar, met 16 persent teen meer as 10mm per jaar. Dit word aangedryf deur dalende watertafels en die blote gewig van geboue. Insakking kos China reeds meer as ‘n miljard Amerikaanse dollar aan jaarlikse verliese, en binne die volgende eeu kan byna ‘n kwart van kusgrond laer as seevlak wees.