Bolandse vrou skuldig aan statutëre verkragting van seun, 13

’n Vrou van ’n Bolandse dorp wat in 2020 ’n seksuele verhouding met ’n toe 13-jarige tienerseun gehad het, is in die landdroshof in Worcester skuldig bevind aan statutêre verkragting. ’n Baba is glo ook uit die verhouding gebore. Luidens die klagstaat het die 25-jarige vrou en die tienerseun tussen 2 Januarie en April 2020 ’n seksuele verhouding gehad. Sy is vyf jaar tronkstraf opgelê. Die vonnis is in sy geheel vir vyf jaar opgeskort met die voorwaarde dat sy in die vyf jaar nie aan ’n soortgelyke misdaad skuldig gevind word nie. Sy is ook 36 maande korrektiewe toesig opgelê en sal vir die 36 maande ook onder huisarres wees. Benewens die korrektiewe toesig en huisarres moet sy 16 ure per maand gemeenskapsdiens verrig by ’n plek wat die hof aandui.