Blinken waarsku China oor nuwe sanksies

Amerika se buitelandse sake-minister, Antony Blinken, het Chinese president Xi Jinping in Beijing gewaarsku dat Amerika en sy Europese bondgenote gereed is om nuwe sanksies op Chinese maatskappye in te stel, indien hulle nie ophou om materiaal en toerusting aan die Russiese wapenbedryf te verskaf nie. Daar was geen onmiddellike reaksie van Xi nie. Blinken het aan die einde van ‘n driedaagse besoek aan China met verslaggewers gepraat en erken daar was verbeterings in betrekkinge sedert ‘n beraad in San Francisco in November tussen Xi en Joe Biden. Blinken het egter duidelik gemaak dat Chinese ondersteuning van die Russiese verdedigingsbedryf, wat gebruik word om Vladimir Poetin se oorlog van aggressie teen die Oekraïne aan te wakker, ‘n groot fokus van meningsverskil bly.