Begunstigde ontvang hervestigingsgrond na hofstryd

Die Namibiese landbouministerie sê in ‘n openbare kennisgewing dat sewe plase, of dele van plase aan begunstigdes toegeken is. Van die begunstigdes is Innodev Trading wat net minder as 4 830 hektaar grond in die Otjozondjupa-streek ontvang het. Dit is plase Felseneck en Okanatjikuma. Die toekenning spruit voort uit ‘n hofsaak waar Innodev bepaal het dat die eerste toekenning foutief gedoen is omdat die destydse begunstigde nie volgens hom eerlik was met die ministerie nie. Hy het hom blykbaar voorgedoen as ‘n maatskappy met vier aandeelhouers waarvan twee vroue is, sowel as voorheen benadeeld, maar daar was inteendeel net een aandeelhouer. Die plaas was ook bestem vir toerisme en wildboerdery en die destydse begunstigde was in spyseniering. Die hele toekenning het verdag voorgekom. Regter Harold Geier het op 22 Februarie 2021 beslis dat Innodev wel die grond moes ontvang en dit is nou amptelik toegeken.