Amerikaanse onafhanklikheidsdag weer oorheers deur massaskietery

Die Amerikaanse President Joe Biden sê sy land moet heelwat meer doen om die epidemie van wapengeweld te hanteer, wat gemeenskappe uitmekaar skeur. Minstens 15 mense, insluitend vyf in Philadelphia en Chicago, is reg oor Amerika in massaskietvoorvalle dood in aanloop tot feesvieringe op die vierde Julie. Daar was net vanjaar reeds 340 massaskietvoorvalle in dié land. Biden het sy oproep herhaal dat alle state aanvalsgewere en groot magasyne verbied en dat die Kongres ‘n nasionale verbod op sulke wapens hernu.