Mededingingskommissie soek steeds voorstelle oor privaat gesondheidsektor

Die Namibiese Mededingingskommissie is bekommerd oor die stand van mededinging in die privaat gesondheidsorg-sektor en het vandag ‘n raadplegende werkswinkel in die hoofstad oor die kwessie aangebied. In samewerking met die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsfonds het die kommissie ‘n konsultant-firma aangestel om ‘n studie van die sektor in die land te doen. Die bevindinge van die studie, wat die koste-tendense van privaat gesondheidsorg oor die jare insluit, asook voorstelle, is by die werkswinkel bespreek. Daar word steeds ‘n beroep op belanghebbendes gedoen om skriftelike voorstelle in te dien om die studie te finaliseer.