Al is stelsel stukkend, is Von Bach okei

Ná die goeie reënval in Namibië, en veral die omliggende gebiede van Windhoek, blyk dit die hoofstad het nie meer ‘n waterkrisis nie. Volgens die jongste dambulletin van NamWater is die Swakoppoortdam 98,1 persent vol, maar die Von Bachdam is 52,9 persent vol. Water kan op die oomblik nie oorgepomp word vanaf Swakoppoort na Von Bach nie omdat die stelsel reeds ‘n geruime tyd stukkend is en die maatskappy wag op toerusting en onderdele. Intussen sal Swakoppoort se water begin oorloop en see toe vloei sou die dam nog water inneem. Maar, NamWater se skakelbeampte, Johannes Shigwedha, sê as damvlakke bo 50 persent is, behoort die stad nie vir die volgende twee jaar ‘n waterkrisis te hê nie.