Zuma se belastinginligting mag media toe

Die Noord-Gauteng Hooggeregshof in Pretoria het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens opdrag gegee om die voormalige president Jacob Zuma se belastinginligting binne tien dae aan Amabhungane en die Financial Mail te gee. Die twee publikasies het die diens voor die hof gedaag oor hul weiering om Zuma se belastinginligting vir die tyd tussen 2010 en 2018 bekend te maak. Hulle voer aan dis in openbare belang. Die Hooggeregshof het die mediamaatskappye se argument ondersteun dat die Wet op Belastingadministrasie in gebreke gebly het om die regte grondwetlike balans te handhaaf tussen toegang tot inligting in openbare belang, en belastingbetalers se reg op privaatheid.