Zambezi: Drankmisbruik onder kinders baie hoog

Die woordvoerder van die Zambezi-streek se polisie inspekteur Kisco Satali sê 70 persent van aangehoudenes in die streek is minderjariges wat op klagtes van dwelm- en drankmisbruik gearresteer is. Volgens hom wek die kwessie baie groot kommer omdat die polisie nie veel daaraan kan doen nie. Hulle verwyder kinders by drinkplekke en die oomblik wat hulle die toneel verlaat is die kinders weer terug. Hy sê shebeen-eienaars jaag winste en kom nie die wette na nie. Die streek se goewerneur Lawrence Sampofu sê die verantwoordelikheid lê by die ouers. Terwyl drinkplekke, wettig en onwettig skerp toeneem in die streek, is dit ouers wat hul kinders onder beheer moet hou. Die streek het ‘n baie hoë werkloosheidsyfer wat op ongeveer 30 persent staan met swak infrastruktuur. Die streek het ook die vierde hoogste skool-swangerskap getalle in die land aangeteken met 514 in 2020 teenoor Omusati, wat eerste geplaas was op 562.