Weermag bevestig staatsgreep in Burkina Faso

Burkina Faso se weermag sê hy het President Roch Kaboré uit die kussings gelig, die Grondwet opgeskort en die regering ontbind. ‘n Militêre offisier omring deur ‘n groep gewapende soldate, het op die nasionale televisie verskyn en gesê Kaboré kan weens uitdagings nie langer die land lei nie. Die uitdagings sluit onder andere ‘n djihad-opstand in waarin duisende mense dood en miljoene ontheem is. Die offisier het ook die sluiting van die landsgrense aangekondig. Dit is die derde militêre staatsgreep in drie maande in Wes-Afrika. Die ander twee was in Guinee en Mali.