Spanning in Oos-Europa neem toe

Die Kremlin het Amerika en die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie daarvan beskuldig dat hulle spanning verhoog te midde van die krisis rondom die Oekraïne, nadat dié Amerikaans-geleide organisasie besluit het om Europa se verdedigingsmagte in die oostelike dele te help versterk. Internasionale nuusagentskappe berig ‘n woordvoerder van die Kremlin, Dmitry Peskov, sê Washington en Navo vererger die spanning deur inligtingshisterie en daadwerklike aksies. Hy sê die risiko van ‘n aanval deur Oekraïense magte teen Moskou-gesteunde separatiste is baie groot. Peskov het aan joernaliste gesê President Vladimir Putin doen die nodige stappe om die land te beskerm. Intussen is 8 500 Amerikaanse soldate op gereedheid geplaas om ontplooi te word. Die hoof van Navo, Jens Stoltenberg, het ‘n beroep op Rusland gedoen om terug te keer na diplomasie.