Volksmoord: Namibië soek eintlik NR1,1 triljoen

Plaaslike berigte lui dat Namibië se eis van 1,1 triljoen Namibiese dollar vir reparasies vir die volksmoord, is steeds geldig. Die aankondiging, wat deur die sentrale bank se adjunk-goewerneur Ebson Uangata, wat deel is van die onderhandelingspan, gemaak is, kom te midde van ‘n versoek dat die ooreenkoms weer met Duitsland onderhandel word. Die regering het reeds in Julie die versoek gestuur en wag nog op ‘n antwoord vanaf Duitse owerhede. Duitsland het 1,1 miljard euro aangebied oor 30 jaar en in die vorm van ontwikkelingsprojekte. Die Namibiese bedrag neem volgens Uangata die verlies van lewens en grond in ag. Die pad vorentoe met enige onderhandelings is onduidelik. Die spesiale gesant wat die onderhandelings gelei het, dr. Zed Ngavirue is in Junie verlede jaar aan Covid oorlede en daar is tot dusver niemand in sy plek aangestel nie.