VN-verslag: Hongersnood neem toe 

Die jongste verslag oor die stand van voedselsekerheid en voeding toon die wêreld beweeg al verder weg van sy doelwit om honger, voedselonsekerheid en wanvoeding teen 2030 uit te wis. Die aantal mense wêreldwyd wat honger ly, het verlede jaar tot 828 miljoen gestyg. Dit is ‘n toename van sowat 46 miljoen sedert 2020 en 150-miljoen sedert die Covid-19-pandemie uitgebreek het. ‘n Woordvoerder van die Verenigde Nasies se wêreldvoedselprogram, David Beasley, sê die skerp stygings in kos-, brandstof- en kunsmis-pryse is die gevolg van die krisis in Oekraïne wat dreig om lande in hongersnood te dompel.