Visserye-minister ontevrede oor sloer van bou van Kavango-streekskantoor

Die Namibiese minister van visserye en mariene hulpbronne, Derek Klazen, het sy ontevredenheid uitgespreek oor sy ministerie se streekkantoor by Rundu wat na tien jaar nog nie voltooi is nie. Klazen is op ‘n week lange besoek aan die twee Kavango-streke. Werk aan die projek het tot stilstand gekom nadat die ministerie van werke en vervoer na bewering weens onduidelike redes geweier het om die kontrakteur te betaal. Oume Construction is in 2012 deur die werke-ministerie gekontrakteer om die streekkantoor te bou teen ‘n koste van 14 miljoen Namibiese dollar. Die kontrak is beëindig en ‘n ander kontrakteur, Afrika Civil Engineering, is in 2015 aangestel om voort te gaan met werk teen ‘n koste van 16 miljoen dollar. Hierdie kontrak is ook in Oktober 2018 beëindig. Tans huur die visserye-ministerie in die streek kantoorruimte van die Namibië Nywerheids-ontwikkelingsagentskap, NIDA, teen ‘n maandelikse koste van 27 000 dollar. Dié kantoor is sedert Februarie sonder elektrisiteit.