Veebemarking skop goed af in Januarie

Die nuutste statistieke van die Lewendehawe- en Lewendehaweprodukte-raad wys die jaar het op ‘n goeie noot begin, met ‘n toename in algehele bemarkingsaktiwiteite. In Januarie is 640 651kg beesvleis uitgevoer, waarvan 42,2 persent na die Europese Unie gegaan het. Altesaam 48 172kg lam- en skaapvleis is uitgevoer, teenoor die 13 952kg wat in Januarie verlede jaar uitgevoer is. Die skaapsektor in geheel het groei van 31,6 persent op ‘n jaargrondslag aangeteken, gelei deur lewende uitvoere en slagting by A-klas abattoirs. Op ‘n jaargrondslag het lewende uitvoere na veral Suid-Afrika met 64,1 persent uitgebrei, van 16 085 stuks skaap in Januarie verlede jaar tot 26 399 stuks vanjaar. Slagaktiwiteite by uitvoer-goedgekeurde abattoirs het in Januarie jaar-tot-jaar met 98,5 persent gegroei. Die boksektor het in Januarie 2024 ook groei van 18,8 persent aangeteken op ‘n jaargrondslag.