Vals klagte van verkragting neem toe

Die Namibiese minister van justisie Yvonne Dausab het haar kommer uitgespreek oor die toenemende voorvalle van vals klagte van verkragting. Volgens haar, word die klagtes gemaak om mans uit te buit en af te pers. Die lynministerie en polisie is bewus van die voorvalle wat al hoe meer algemeen raak en werk onverpoosd om te verseker dat verkragting, wanneer ‘n klag gelê word, bewys kan word. Daar was onlangs ‘n gesprek wat op Twitter gevoer is deur lede van die Namibiese publiek oor presies die kwessie en die skade wat dit doen aan ‘n beskuldigde se reputasie. Volgens Dausab word daar stappe geneem om nie ‘n arrestasie uit te voer voor daar nie voldoende bewyse is nie. Sy voeg by dat dit onwaarskynlik is dat ‘n onskuldige in ‘n hof skuldig bevind sal word.