Twee vas oor ontvoering van 13-jarige seun in KZN

Die Valke en ander polisie-eenhede het ‘n 13-jarige seun gered wat in Inanda, noord van Durban, ontvoer is. Die seun is vroeër die week op pad skool toe ontvoer. Die Valke se woordvoerder in KwaZulu-Natal, Simphiwe Mhlongo, sê die verdagtes het ‘n losprys van een miljoen Suid-Afrikaanse rand by die seun se ma geëis. Die familie het die ontvoerders 90 000 rand betaal, maar die seun is nie vrygelaat nie. ‘n Gesamentlike polisieondersoek het gelei tot die arrestasie van twee verdagtes.