Tussentydse interdik teen Shell se Wildekus-eksplorasie

Regter Gerald Bloem van die hoërhof in Makhanda in Suid-Afrika het ‘n tussentydse opskorting van alle seismiese opnames van die olie-reus Shell op die Wildekus beveel. Shell het reeds, tot die ontsteltenis van verskeie gemeenskappe en drukgroepe, reeds op 2 Desember met sy opnames begin. Richard Spoor Attorneys en die buurland se regshulpbron-sentrum het die aansoek gebring. Die gemeenskappe sê hulle maak staat op die mariene omgewing vir hulle inkomste en kulturele praktyke. Shell het vroeër gewaarsku dat ‘n interdik, al is dit tydelik, hom moontlik sal noodsaak om die hele projek te staak en hy kan verliese van tot ‘n miljard Suid-Afrikaanse rand ly. Shell en die buurland se energieminister Gwede Mantashe moet die kostes betaal. Die burgerlike samelewing het hom hard beywer teen die opnames maar in Namibië, is dieselfde opnames gedoen en alles was doodstil. Matt Totten, ‘n kenner op die gebied van olie- en gas-eksplorasie, sê dit is hartseer vir Namibië.