Tsumeb Gimnasium dagvaar oor rugby, netbal

Tsumeb Gimnasium daag die Namibiese Skolesport-unie, sowel as verskeie ander, voor hoërhofregter Harold Geier in ‘n dringende aansoek wat vanoggend om nege-uur aangehoor word. Die skoolhoof Pieter Niehaus sê in sy aansoek dat die sport-unie se beslissing van 19 April vanjaar, dat geen laerskool rugbyspeler wat nie ook aan die sport-unie se ligas deelneem nie, nie in die skool se nasionale proewe mag deelneem nie, ter syde gestel moet word. Volgens Niehaus is hulle ook ingelig dat al die skool se netbalspelers uitgesluit word uit die Namibiese skole se superliga. Hy sê dat die NSSU se Solly Duiker ‘n vendetta teen Napso het ten spyte daarvan dat die privaatskole sport bevorder en daarin belê. Hy voeg by dat Duiker in die verlede leerders wat deel vorm van Napso probeer intimideer het. Die aansoek word verdedig en in sy stukke bevraagteken Duiker die dringendheid van die aansoek en sê die feite soos deur Niehaus neergelê, word betwis.