Lucia ontsteld oor vyandigheid teenoor buitelanders

Die Namibiese handelsminister Lucia Iipumbu het haar misnoë uitgespreek oor wat sy as aggressie en vyandigheid teenoor buitelandse besighede in die land beskryf. Sy sê die sakesektor gaan gebuk onder verskeie uitdagings wat deur die Covid-pandemie veroorsaak is en vererger word deur die konflik in Oos-Europa. Iipumbu se aanmerkings kom na die Namibia Economic Freedom Fighters se chaos by China Town na NamRA vervalste goedere vernietig het. Sy sê regoor die wêreld is buitelandse besighede bedrywig in ander lande wat nodige belegging en werkskepping bring. Die Namibiese regering sukkel op die oomblik om daadwerklike beleggings te bekom as gevolg van die gebrek aan ‘n raamwerk. Daar is vier nuwe beleggingsbeleide tot op hede opgestel en almal is weer onttrek en dus is daar onsekerheid oor wat die regering beplan vir beleggers. Daar is ook weer vanoggend ‘n optog deur die Namibia Economic Freedom Fighters wat agt-uur by China Town begin en dan na die ministeries van binnelandse sake en handel opruk, en dan na NamRA en die Chinese ambassade.