TransNamib wil N$2,1 miljard leen vir nuwe lokomotiewe

Volgens TransNamib se uitvoerende hoof vir ingenieurswese en tegniese dienste, Bertus Eksteen, is die maatskappy in die proses om ‘n lening van 2,1 miljard Namibiese dollar van die Ontwikkelingsbank van Suid-Afrika te verkry om nuwe lokomotiewe aan te koop. Dit het ten doel om toekomstige volume-verwagtinge te behaal en weer finansieel lewensvatbaar te word. Eksteen het dit bevestig tydens ‘n vergadering tussen TransNamib-bestuur en die Parlementêre Staande Komitee oor Ekonomie en Publieke Administrasie. Hy sê die fondse sal gebruik word om onder meer 20 nuwe lokomotiewe aan te skaf, 10 lokomotiewe, 300 waens en tenkwaens te hervervaardig, en werkswinkel-toerusting op te gradeer. TransNamib het tans 78 lokomotiewe, waarvan 26 in bedryf is, terwyl die maatskappy minstens 34 lokomotiewe per dag benodig vir voldoende werkverrigting. Eksteen het bygevoeg dat uit die 26 lokomotiewe, 20 tussen 50 en 60 jaar oud is, vyf is ses jaar oud en een is 17 jaar in gebruik.