Swakop-staffie word van kant gemaak na derde aanval

Die Swakopmund-munisipaliteit het bevestig dat hy ‘n Staffordshire bullterrier-hond van kant sal maak na ‘n vierjarige meisie op die dorp aangeval is. Die voorval het reeds verlede week Vrydag in Mondesa plaasgevind. Volgens die Namibiese polisie het ‘n man wat aan die eienaar van die hond bekend is, die hond na bewering sonder die eienaar se toestemming uit die erf geneem. Hy is toe van sy leiband vrygemaak. Dit is blykbaar die derde voorval wat in verband met die betrokke hond aangemeld is en die eienaar het twee dae voor die jongste voorval ‘n waarskuwing van die munisipaliteit se dierebeheerafdeling ontvang. Volgens die munisipaliteit se woordvoerder, Linda Mupupa, het dié eienaar glo vyf ongeregistreerde honde, wat teen die munisipaliteit se verordeninge is, aangesien elke huishouding slegs vier honde mag hê, wat elk ‘n permit van die munisipaliteit moet hê. Die munisipaliteit het ook bevestig dat daar geen bewys van inenting vir die hond was nie. Die kind is in ‘n stabiele maar ernstige toestand in die hospitaal.