Stygende insetkoste raak lewensvatbaarheid van Nam-landbou

Daar is kommer oor die plaaslike landbou-bedryf as gevolg van stygende insetkostes. Die Namibiese landbouminister, Calle Schlettwein, sê dit kan moontlik lei tot werksverliese in die sektor. Kunsmis is veral ‘n uitdaging. Rusland, wat sowat 14 persent van die wêreldwye kunsmisuitvoere beslaan, het uitgaande handel tydelik opgeskort wat ‘n impak op internasionale voedselmarkte sal hê. Intussen het petrol met 50 persent en diesel met 60 persent in die afgelope jaar gestyg. Schlettwein sê hierdie kumulatiewe insetprysverhoging maak veral gewasproduksie uiters duur. Landbou ondersteun net meer as 167 000 werksgeleenthede met 4,6 afhanklikes vir elke salaristrekker in die land en daar is kommer oor die huidige lewensvatbaarheid van voedselproduksie. Kleinskaalse boere sal die meeste sukkel om die prysstygings, veral vir kunsmis, te absorbeer. Amptelike syfers toon dat Namibië kunsmis en plaagdoders ter waarde van 334,4 miljoen Namibiese dollar in die vierde kwartaal van verlede jaar ingevoer het.