Student kry 34 jaar in Saoedi omdat sy aktiviste op Twitter volg

Reaksie word ontvang op berigte dat ’n student en menseregte-aktivis van Leeds Universiteit in Brittanje tot 34 jaar tronkstraf in Saoedi-Arabië gevonnis is omdat sy aktiviste en andersdenkendes op Twitter volg. Salma al-Shehab, 34, is die vonnis opgelê in ‘n uitspraak wat kenners meen ‘n gevaarlike presedent vir vroue-aktiviste stel. Sy is in Januarie 2021 gearresteer terwyl sy op vakansie was in Saoedi-Arabië. Die bekende Saoedi-aktivis Lina Al Hathloul sê daar is groot kommer omdat dit dalk die nuwe standaard sal word.