Stormers vat hom 36-19 in Kaapstad

Die Stormers het vyf drieë aangeteken teenoor Scarlets se drie en die naweek se eerste Verenigde Kampioenskap-wedstryd in Kaapstad met 36-19 gewen. Die rustydtelling was 29-7 in die verdedigende kampioen se guns. Die span van Kaapstad het nog nie tuis verloor sedert hul nederlaag van 37-19 teen die Leeus verlede Desember nie. Vanmiddag om drie-uur pak die Bulle nóg ‘n Walliese span, die Ospreys, op Loftus. Die Leeus sê môremiddag die Dragons die stryd aan, terwyl die Sharks Cardiff in Durban pak.