Oortrokke fasiliteite die gunsteling om kostes te dek

Met Swart Vrydag wat agter die rug is, lê die feesseisoen, in seker die moeilikste ekonomiese tye in onlangse jare, voor. Daar word voorspel dat die Bank van Namibië waarskynlik ook die plaaslike repokoers met 75 basispunte sal verhoog op 30 November, na die Suid-Afrikaanse Reserwebank se aankondiging die week. Indien wel, sal dit die sesde verhoging die jaar wees en sal dit die terugkoopkoers op 7 persent te staan bring wat prima opstoot na 10,5 persent. Dit sal verbruikers se bestedingskrag gedurende die feestyd demp. Volgens die makelaarsfirma Simonis Storm is tipiese huislenings prima plus een is en motorlenings prima plus twee, dus sal dié koerse ook verder styg. Die firma sê verder dat Namibiërs hulle tot oortrokke fasiliteite wend om hul komende vakansie-uitgawes te dek. Van die plaaslike banke dui op ‘n groot vraag na oortrokke fasiliteite.