Stigting kla by Cites oor olifant-verkope

‘n Nie-regerings-organisasie, Franz Weber-stigting sê sy navorsing toon dat die vang en vervoer van wilde olifante in Namibië die diere in gevaar sal stel. Die omgewingsministerie het verlede week bevestig 57 van die 170 olifante wat te koop aangebied is, verkoop is en 42 word uitgevoer. Volgens die stigting oortree Namibiese owerhede hierdeur internasionale verpligtinge. Die stigting sê hy het reeds kontak met die internasionale konvensie wat handel in bedreigde diere beheer, Cites, gemaak om die verkoop onmiddellik te verbied. Cites laat nie die uitvoer van olifante toe nie, behalwe as die diere na ‘n bewaringsprogram verskuif word. Die stigting sê verder die olifant-bevolking in die Kunene-streek is glad nie stabiel nie en die langdurige droogte het die diere se getalle skerp laat daal en dus maak dit geen sin om diere in die gebied te vang nie.