Soni, joernalis Grobler weer in Gobabis-hof

Kosmos 94.1 Nuus kan bevestig dat joernalis John Grobler en die stigter van die Namibia Travel and Tourism Forum, Nrupesh Soni môre in die landdroshof op Gobabis sal verskyn. Dit is op klagtes wat verband hou met die omstrede verkoop van 23 wild-gevangde olifante aan twee dieretuine in die Verenigde Arabiese Emirate. Die twee word aangekla van betreding en die vlieg van ‘n vliegtuig sonder die nodige toestemming – ‘n hommeltuig is gebruik – op die wildhandelaar Gerrie Odendaal se plaas buite die dorp op 19 Februarie 2022. Die twee is destyds op Gobabis aangekeer en ‘n DJI Phantom-hommeltuig met ‘n fotokaart met foto’s van die olifante op, is gekonfiskeer. Regsman vir Grobler, Borris Erasmus, sê hulle wag nog op die staat se stukke. Die saak sal na alle waarskynlikheid weer uitgestel word, veral omdat Erasmus nog nie op rekord is as regsverteenwoordiger vir Grobler nie. Grobler en Soni is vry op waarskuwing.