Sluipmoordpoging op Zelensky bevestig

Die Oekraïne het bevestig daar was die afgelope naweek ‘n sluipmoordpoging op president Volodymyr Zelensky. Die aanval is gestuit en die Tsjetsjniese aanvallers wat uit Rusland gestuur is, het swaar verliese gely. Die sekretaris van die Oekraïne se Nasionale Veiligheids- en Verdedigingsraad, Oleksiy Danilov, het aan die plaaslike televisie gesê beamptes het inligting ontvang oor ‘n eenheid elite Tsjetsjniese Spesiale Magte wat op pad was na Kiëf. Die soldate is in die buitewyke van die hoofstad doodgeskiet. Amerikaanse media berig die Tsjetsjniese leier, Ramzan Kadyrov, het vroeër bevestig twee soldate is dood en ses gewond, maar wou nie kommentaar lewer op Kiëf se bewerings nie.