Seun, 11, veg vir sy lewe na seun, 10, hom met mes steek

Die Namibiese polisie se misdaadverslag vir 24 tot 27 Desember is bekend gemaak. Volgens die mag duur die ondersoek na die mes-aanval op ‘n 11-jarige seun steeds voort na hy vermoedelik op Oukersaand deur ‘n tien-jarige seun twee keer in sy bors gesteek is. Die insident het op Dordabis plaasgevind en die polisie sê die verdagte het na bewering tuisgemaakte gemmerbier gedrink voor die aanval. Die kind word in die hospitaal behandel waar sy toestand as stabiel, maar kritiek, beskryf word. Intussen sê die polisie dat ‘n 25-jarige verdagte in die vroeë oggendure by die polisiekantoor op Otjiwarongo ingebreek en rekenaars gesteel het. Die verdagte is gearresteer na hy gevind is in besit van ‘n muis wat polisielede erken het as hulle s’n.